Gedurende Junie 2000 het Gerrit Viljoen, HO du Plessis en Kobus Grimbeek hulle finansiële beplanningsbesighede saamgevoeg. Hulle het hul klein tuiskantore verskuif na Karibastraat 73 en Ultima Finansiële Adviseurs (Edms) Bpk is gestig.
In 1999 ontmoet Gerrit en HO met Barry O’Mahony, wat op daardie tydstip vir ACSIS Beperk gewerk het. Barry het die konsep van Lewenstyl Finansiële Beplanning aan hulle verduidelik. Hy het ook die nuwe inflasie plus beleggingstrategieë bekend gestel. Hulle finansiële beplanningsuitkyk en hul toekomstige advies is hierdeur baie verander.
Gereelde MS Powerpoint seminare is in die raadsaal te Karibastraat gehou. Tydens die seminare is die konsep van Lewenstyl Finansiële Beplanning en die inflasie plus beleggingstrategieë, groep vir groep, aan ons bestaande kliënte bekend gestel.
Omdat die konsep so sinvol was, het die meerderheid kliënte gekies om hul beleggings na die nuwe beleggingsoplossings oor te plaas. Kapitaalwinsbelasting (KWB) is eers vanaf 1 Oktober 2001 in Suid-Afrika ingestel. Dus was daar was geen KWB van toepassing in 2000 nie, en beleggings kon maklik sonder KWB gevolge oorgedra word.
Acsis en Andrew Bradley het ons geleer om aan ons besigheid te werk en nie net in ons besigheid nie. Vanweë hul uitstekende en tydige jaarlikse spitsberade, hul besigheidsafrigters en oopdeurbenadering, kon ons ʼn gesonde onderneming bou, aanpas by veranderings en deur baie uitdagings oor die afgelope 20 jaar kom.
Baie dinge het oor die jare verander:
GPS koördinate en Google Maps het gedrukte padkaarte en aanwysings vervang.
Ons onthou nog die dae toe kwartaalstate, nuusbriewe en kalenders in koeverte gesorteer en gepos is. Verjaarsdagkaartjies was per hand geteken.
E-posse en elektroniese kommunikasie het slakkepos, faksmasjiene, telegramme en DOCEX vervang.
Ons het van ‘n verkoopspan vir groot versekeringsmaatskappye verander tot professionele finansiële beplanners. Kliënte het ons al hoe meer by ons kantore begin raadpleeg en daar is minder gereis.
Om te spesialiseer in beleggingsbeplanning en finansiële beplanning vir afgetredenes, het ons dienste soos korttermynversekering en mediese fondse uitgekontrakteer. Namate kliënte ouer geraak het, het ons ons dienste uitgebrei om testamente op te stel en boedelbeplanning te doen. In die beginjare wou Gerrit so graag die eerste beleggingstjek vir Een Miljoen Rand sien!
Tydens die COVID-19 pandemie moes ons personeel tuis werk. Die finansiële beplanners kon baie kliënte aan aanlynvergaderings en elektroniese finansiële planne bekendstel. Elektronies transaksies met elektroniese handtekeninge (waar toegelaat) kon realiseer.
Die boekhou- en salarisstelsels is omgeskakel van handstelsels, na Sage One Accounting, Sage Payroll, SARS eFiling en SARS e@syFile.
FICA (2001), FAIS (2004) en TCF (2006) wetgewing het ons bedryf oorreed om nougesette prosesse te volg wanneer hulle met kliënte werk. Baie agente en makelaars het verander in professionele persone.
Simone Basson en Jan-Carel Botha het ons eerste webwerf in 2008 laat realiseer en die Pretoria gebaseerde Christelike gemeenskapsradiostasie, Impact Radio 103, het Gerrit en Ultima die geleentheid gebied om ‘n weeklikse program, “Wealth through financial planning” aan te bied. Die radioprogram word sedert 2008 uitgesaai.
Ons het geëerd gevoel toe Gerrit Viljoen in 2003 die “FPI Financial Planner of the Year” toekenning ontvang het, en Jan-Carel Botha ‘n paar jaar later in 2012. Tans het Hester van der Merwe deurgedring tot die tweede rondte van die 2020 “FPI Financial Planner of the Year” kompetisie en ons wens haar alles van die beste toe.
In 2018 word Ultima ‘n “FPI Approved Professional Practice”, een van 14 praktyke landwyd.
Ons is dankbaar daarvoor dat meeste van ons kliënte by ons uitgekom het deur ons bestaande kliënte. Baie het hul kinders, kollegas en vriende aan ons voorgestel.
Wat vir ons almal in die toekoms voorlê:
- Meer vaartbelynde tegnologiese funksionering
- Jonger kliënte uit tegnologies geskoolde generasies
- Gediversifiseerde personeel
- Kliënte afrigting (“coaching”)
- Meer innoverende finansiële beplanning en oplossings
- Tuisgebaseerde personeel
- Vinniger internet
- Ons tweede FLOW konferensie
Die reis tot hier was ‘n vinnig veranderde en dinamiese een en sal sodanig bly. Na meer as 20 jaar is ons werk steeds ons passie en het baie kliënte vriende geword. Kan ‘n mens vir meer vra?
Met opregte harte en groot dankbaarheid bedank ons al ons kliënte, diensverskaffers, kollegas, ons families en ons God vir 20 geseënde jare.