8 Augustus – VDT Attorneys – www.vdt.co.za
“Ek het ‘n familietrust vir die doeleindes van boedelbeplanning gestig om seker te maak my kinders is
versorg ná my afsterwe. Ek wonder egter of die trust ná my dood beëindig kan word, en indien wel,
wanneer? Ek wil nie dat al my beplanning op niks uitloop omdat die trust net geëindig het nie.”
In die Suid-Afrikaanse reg moet ‘n mens onderskei tussen twee algemene tipes trusts, naamlik ‘n
testamentêre trust (gestig in jou testament) en ‘n inter vivos-trust, wat gestig is in terme van ‘n trustakte.
Laasgenoemde tipe sluit jou familietrust in.
Beide tipes trusts eindig of ‘sterf’ nie weens ongebruik nie. Oor die algemeen sal ‘n trust vir altyd bestaan.
Dit word ondersteun deur die feit dat ons Wet op die Beheer van Trustgoed, 57 van 1988, (“die Wet”) wat
die werking van trusts in Suid-Afrika reguleer, nie uitdruklik voorsiening maak vir wanneer en hoe ‘n trust
eindig nie. Dit gesê, beteken dit nie dat ‘n trust nooit beëindig kan word nie, aangesien heelwat gebeure in
die leeftyd van die stigter, die trustees of die begunstigdes van die trust kan gebeur, wat wel gronde kan
bied vir die beëindiging van ‘n trust.
Wanneer die beëindiging van ‘n inter vivos-familietrust oorweeg word, sal die eerste stap altyd wees om te
kyk na die bepalings van die trustakte. Dikwels sal die trustakte bepaal wanneer die trust kan of sal eindig.
Van die mees algemene bepalings hieromtrent in trustaktes, is:
• Dit mag eindig sodra al die trustbates onder die begunstigdes verdeel is.
• Dit mag eindig ná ‘n sekere tydperk of ten tyde van ‘n spesifieke gebeurtenis.
• Dit mag eindig na goeddunke van die trustees en/of deur ‘n besluit wat die begunstigdes aanvaar het.
• Dit mag eindig sodra die hoofdoel daarvan bereik is.
• Dit mag eindig indien dit onmoontlik geword het om die trust se hoofdoel te bereik.
Sou die trustees en/of begunstigdes die trust wil beëindig onderhewig aan omstandighede waarvoor daar
nie in die trustakte self voorsiening gemaak word nie, is ‘n ander beskikbare opsie om die Hooggeregshof
te nader met ‘n versoek om die trust in terme van die Wet te beëindig.
Daar kan ‘n hele aantal redes wees waarom die beëindiging van ‘n trust geregverdig mag wees, soos dat
dit onekonomies geword het om die trust namens die begunstigdes te bestuur, of dat daar nie voldoende
waarde in die trust oor is nie, of selfs dat die verhouding tussen die begunstigdes en die trustees verbrokkel
het tot ‘n punt waar die bestuur van die trust onmoontlik geraak het. Die hof sal egter elke situasie op eie
meriete oorweeg.
Vir die beëindiging van ‘n trust, is dit belangrik dat die bates formeel onder die begunstigdes verdeel word,
dienooreenkomstig die trustakte. Sodra alle laste in orde gebring en trustbates onder die begunstigdes
verdeel is, kan die trust as beëindig beskou word. Belangrik is egter dat die trust nie met beëindiging
gelyktydig gederegistreer is nie. Vir deregistrasie moet apart aansoek gedoen word by die kantoor van die
Meester waar die trust oorspronklik geregistreer is. Die Meester sal ‘n klomp dokumente benodig om te
verifieer dat die trust inderdaad beëindig is, soos ‘n bewys dat die bankrekening van die trust gesluit is en
dat al die bates onderverdeel is, waarna die deregistrasie van die trust goedgekeur sal word.
Oor die algemeen, indien jy ‘n goedopgestelde trustakte het wat duidelik voorsiening maak vir wanneer en
op grond waarvan die trust beëindig mag word, is daar egter geen rede tot kommer oor die beëindiging van
jou trust wat jou begunstigdes onbeskermd sal laat nie. As jy onseker is oor die bepalings vir beëindiging
van jou huidige trustakte, raadpleeg jou prokureur of boedelbeplanner en bespreek jou trustakte asook
enige ander bekommernisse wat jy mag hê.
Bron:
https://www.vdt.co.za/NewsResources/NewsArticle.aspx?ArticleID=2594&Type=Secondary